Die Oorsprong Van Die duiwel
05.28.10
![]() |
Post Page Rank |
Let asseblief op dat ons aspris die satan se naam met ‘n klein “s” gespel het (selfs aan die begin van sinne, maar nie binne gekwoteerde Bybel verse nie) omdat ons hom nie enige respek wil betoon of sy belangrikheid enigsins meer wil beklemtoon as wat ons hoef te doen nie. Dit is nie te sê dat ons onbewus is van sy planne nie, want ons het hom al gesien steel, slag en verwoes in die lewens van miljoene mense in die wêreld. Hy sal egter leer om sy plek te ken in ons lewens en die lewens van diegene wat hulle geregtige plek wil opneem as ware seuns van God, volgens die volgende vers: [Rom 16:20a En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel].
Die Oorsprong Van Die duiwel
Die duiwel (lucifer) was geskep as die hoof engel (gerub) van musiek in die Hemel en hy het daardie posisie beklee totdat ongeregtigheid in hom te vinde was. Toe die profeet Esegiël oor die koning van Tirus geskryf het, het hy eintlik verwys na satan – hierdie was ‘n tipe van beeldspraak wat gebruik is om van iemand te praat terwyl daar eintlik na ‘n ander person verwys word. Ons weet dat Esegiël besig was om van die duiwel te praat, want behalwe vir God, was daar net 3 ander mense in die Tuin van Eden: Adam, Eva en satan wat deur die slang gepraat het (sien vers 13 onder): Let op hoe mooi lucifer geskep was:
[Esegiel 28:12 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. 14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. 15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. 16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! 17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. 18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. 19 Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie].
Lucifer (wat “Engel van Lig”) beteken het korrup geword as gevolg van sy eie skoonheid en hy het vol trots geword (sien weer v. 17 bo). Deur een of ander vorm van kundige onderhandeling of plan (daarom wys v. 15 en v. 18 uit dat hy besig was om “handel te dryf”) het hy dit vermag om ongeveer ‘n derde van die engele in die hemel te ook beïnvloed. En omdat sonde nie in die Hemel kan bestaan nie is hy uitgewerp en hierdie engele saam met hom.
[Openb 12:7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; 8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp].
Die duiwel was nou die heerser van die aarde, omdat dit die plek was waarheen hy neergewerp is. Toe het God die mens geskep, hom ook op die aarde geplaas en hom die bevel gegee om die Tuin van Eden te bewerk en dit op te pas. [Gen 2:15 Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak]. Waarteen moes die mens die tuin oppas, want die leeu en die lam het toe nog saamgewei? Teen die satan natuurlik! Die satan het oor die aarde geheers tot op daardie stadium, maar nou het God die mens op die aarde geplaas om in satan se plek te heers: [Gen 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip]. Dus as gevolg van God se bevel was die mens die wettige heerser oor die aarde.
Dan lees ons hoe deur Adam se nalatigheid om behoorlik te heers, hoe satan dit reggekry het om die lyf van ‘n slang te gebruik om Eva te mislei, en sy daarna ook vir Adam mislei het. Die satan het hulle laat glo dat hulle soos God sou word as hulle van die vrugte eet, en dit terwyl hulle eintlik alreeds soos God was! [Gen 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape]. Hulle was ook gevul met die Heilige Gees [Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword] en was met God se glorie beklee tot die mate dat hulle nie eers besef het hulle is naak nie. Nadat hulle van die vrug geëet het, het hulle agtergekom dat hulle naak was – eintlik het hulle maar net agtergekom dat God se glorie, wat hulle voorheen bedek het, gelig het – wat regtig beteken dat hulle geestelik gesterf het. Deur hierdie enkele daad van ongehoorsaamheid het Adam die hele mensdom in sonde gedompel en omdat die hele mensdom se saad op daardie stadium nog ín Adam was, sou elke mens wat uit Adam gebore sou word nou met ‘n sondige natuur gebore word. [Rom 5:12a Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood…].
Dt is die rede waarom dit nodig was vir Jesus om uit ‘n maagd gebore te word – sodat Hy nie die sondige natuur sou beëerf wat van generasie na generasie oorgedra is sedert Adam nie. Instede is Jesus deur die Heilige Gees gebaar deur God se eie saad. Hierdie is dieselfde saad wat aan ons gegee word wanneer ons wedergebore word: [1 Pet 1:23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly].
In Genade
Andre van der Merwe
