Moenie God Vra Vir Wat Jy Reeds Ontvang Het
11.04.09
![]() |
Post Page Rank |
Moenie God Vra Vir Wat Jy Reeds Ontvang Het Nie
[Joh 1:16 En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade].
‘n Vooraanstaande teorie wat die rondtes doen in die kerk vandag, is die feit dat ons moet aanhou om God te vra vir meer krag, meer salwing, meer self-vertroue, ens. om beter te kan bedien en meer effektief vir God te wees. En tog wanneer ons kyk na wat die Skrif sê, word ons weer en weer vertel dat ons alreeds ALLES ontvang het wat ons ooit sou nodig hê wat betref lewe (ons fisiese behoeftes) en geestelikheid (ons geestelike behoeftes). [2 Pet 1:3 Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug].
Jy sal vind dat die meeste prominente kerkleiers hierdie leerring teenstaan want dit haal die blaam van God af (vir alles wat Hy NIE vir ons doen nie) en sit dit vierkantig terug op die skouers van die gelowige om uit te gaan en te doen wat Hy ons in die eerste plek beveel het: [Matt 10:8 Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee]. Let op dat Jesus nie gesê het ons moet bid vir die siekes nie, hy het ons beveel om hulle te GENEES! Dit plaas duidelik die verantwoordelikheid op ons, waar deur eenvoudig te “bid vir die siekes” die verantwoordelikheid op God sit. Onder die Ou Verbond (Testament) het God vir ons geveg – onder die Nuwe Verbond veg Hy deur ons.
[Joh 14:12 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan]. Nou oorweeg die volgende: Dink jy dat Jesus hierdie stelling sou gemaak het as Hy dit nie bedoel het nie? Sou Hy hierdie woorde gespreek het as Hy geweet het dat ons nooit die werke sou kon doen wat Hy gedoen het nie, en homself daardeur ‘n leuenaar maak? Natuurlik nie. Jesus sou nooit ‘n belofte soos hierdie maak en dan die kerk sonder die vermoë of ontoegrus los om dit te kon doen nie.
Nou ek spreek nie as ‘n persoon wat eis om reeds in die vlak van tekens en wonders te loop wat Jesus gedoen het nie, maar ek het verseker die skuif in my verstand gemaak dat as die persoon waarvoor ek gebid het nie genees is nie, dan weet ek die blokkasie en probleem is by my en nie by God nie! Dieselfde beginsel geld vir die volgende vers: [Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee]. As ek dit nog nie in my lewe sien manifesteer nie, dan is dit dalk tyd dat ek ophou om God te blameer vir wat in die wêreld aangaan, ophou om Hom te vra “hoekom ek?” en ophou om hom te vra vir meer krag, meer selfvertroue (boldness), meer salwing ens. en begin besef en gebruik wat ek ALREEDS ONTVANG HET. Dit belangrik om te besef dat op hierdie einste oomblik leef die Heilige Gees reeds binne-in ons in volheid, wat beteken dat al Sy krag, Sy natuur & Sy karakter in ons leef. [Kol 2:9 Want in Hom (Christus) woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 10 en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag].
Baie van die liedjies wat ons sing in die kerk vertel vir God hoe honger en dors ons is en vra Hom om ons te kom vul en Sy lafende water oor ons te laat spoel. In die volgende 2 verse praat Jesus SPESIFIEK van om gered te word, en Hy sê dat wieookal al na Hom toe kom (wat beteken om vir die eerste keer gered te word), sal nooit weer honger of dors nie. [Joh 4:14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe]. [Joh 6:35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie]. Terwyl daar niks verkeerd is om ‘n passie vir God te hê en meer en meer na Hom te soek nie, is daar definetief iets mee verkeerd om Hom te vertel dat die rede hoekom ons nie in tekens en wonders beweeg nie is omdat Hy ons nie toegrus het nie! Inteendeel, wanneer ons enige vorm van “tekort” erken in wat God aan ons gegee het, is dit eintlik ‘n belediging teen die kruis. As ons God vertel dat ons dors of honger is vir Hom, wel dan moet ons dalk gered word en die Heilige Gees ontvang sodat ons nooit weer honger of dors hoef te wees nie. [Matt 5:6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word]. Wanneer jy die geregtigheid van God as ‘n geskenk ontvang (wanneer jy gered word), IS JY VERSADIG!
Amper al die kere wat die apostel Paulus vir “meer” gevra het, het hy gepraat van om God beter te leer ken en meer openbaring te ontvang van wat REEDS AAN ONS GEGEE IS (Kol 1:9, Eph 3:19, ens).
Nou mag jy dalk dink: “Maar ons is opreg as ons hierdie woorde vir God sing (dat ons honger en dors na Hom), en Hy sal steeds ons opregtheid waardeer.” Maar het jy egter oorweeg dat baie mense in hierdie wêreld wat glo dat hulle opreg is, opreg verkeerd is? Om slegs opreg te wees maak dit nie reg nie, en God wil hê ons moet Hom in Gees en in WAARHEID aanbid. Moslems en Sataniste is ook opreg in wat hulle glo.
As jy in staat was om hierdie artikel tot op hierdie punt te kon lees, beteken dit dat jy sekerlik opsoek is na waarheid in hierdie opsig. Die sleutel is eenvoudig om die verandering in ons denke te maak en te besluit om VANUIT ons posisie van oorwinning te leef, van binne af buitentoe. Ons het nodig dat dit wat binne ons is uitvloei om die wêreld om ons te verander. [Kol 1:27 ...God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid]. Wanneer die wêreld begin om Jesus deur ons te sien leef, sal hulle nie die werklikheid van die liefde en krag kan ontken wat uit die lewens van God se kinders vloei nie. En dit alles begin deur te erken wat ons REEDS ontvang het: Volheid in Christus!! Amen!!
In Genade
Andre van der Merwe
