Lees die Bybel in Konteks
06.16.09
![]() |
Post Page Rank |
Lees die Bybel in Konteks
Wanneer die Bybel ookal gelees word vandag, moet dit in konteks gelees word, anders sal ons “gecon” (uitgevang) word deur die teks. Die Woord is lewend, die Woord is Waarheid, die naam van die Woord is Jesus. Joh 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Wanneer mense Bybelverse buite konteks kwoteer, is dit amper asof hulle hulle eie weergawe van die Bybel skryf, en hulle eie God skep!!
Vadag word “skynbare” veroordelende verse buite konteks na gelowiges toe gegooi (veral dié wat glo in die Genade boodskap), of verse word buite konteks gebruik om verskonings en teoriëe te formuleer vir ons tekort aan krag en wonderwerke asook om die afwesigheid van tekens en wonders in ons lewens te motiveer / staaf. Die waarheid is egter dat ons nooit veronderstel is om die Bybel af te water tot op ons eie vlak van ervaring nie, maar moet leef om die supernatuurlike dimensie van die hemel in ons eie lewens te sien inbreek! Die wonders van God was nie net bedoel vir die tye van die Bybel nie, dit is vir vandag – die Woord is net so kragtig vandag as wat dit ooit was, maak nie saak wat mense sê nie! Rom 3:4 … Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig… Die Woord van God sal nooit verander nie. Mark 13:31 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Wanneer enige Bybelvers gelees word, moet ons eerstens weet in watter verbond dit val. Daar is grootliks 3 belangrike tydperke in die Bybel:
Eerste Tydperk: Van die tuin van Eden tot by die berg Sinai waar die wet gegee is (Eks 19). Gedurende hierdie periode was mense nie onder die wet nie, en het God onvoorwaardelike liefde en genade aan hulle bewys onafhanklik van hulle vlak van gehoorsaamheid aan Hom.
Tweede Tydperk: Van die berg Sinai tot by die kruis. Net omdat sekere boeke na die leë bladsy val wat die Bybel Vereniging in ons Bybel geplaas het, beteken dit nie noodwendig dit is die nuwe verbond nie. Wanneer ons die 4 evangelies lees asook sekere skrifgedeeltes verder in die Nuwe Testament, moet daar vasgestel word of die teks verwys na na die wet van die ou verbond, of na die genade van die nuwe verbond. Jesus het meestal gepraat oor die koninkryk van God, maar die meeste van die tyd het Hy gepraat met skares mense wat steeds onder die denkwyse was van die ou verbond se wette en Hy moes hulle godsdienstige denke teenwerk.
Derde Tyderk: Van die kruis vorentoe, die Nuwe Verbond. Sommige teoloë glo dat die Nuwe Verbond eers begin het na die Pinksterfees toe die Heilige Gees uitgestort was.
Daar is verdere maniere om te bepaal in watter konteks skrifgedeeltes val, soos om Bybelgeskiedenis of Bybelkommentare te bestudeer soda tons kan vasstel deur wie die spesifieke boek geskryf is, AAN wie dit geskryf is, hoekom en wanneer dit geskryf is, ens. Hier volg twee voorbeelde van skrifgedeeltes wat telkemale buite verband geruk word:
Voorbeeld 1:
Matt 18:9 En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word. Asook Matt 5:28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
Jesus was besig om te praat met mense wat trots was op hulleself omdat hulle die wette van Moses gehad het, maar hulle het deur die jare hierdie wette “afgewater” tot op ‘n standaard wat hulle dit kon nakom. Jesus was eenvoudig besig om hulle te vertel dat die standaarde van die wet VEEL hoër is as wat die mens ooit kon hoop om na te kom, en dat die mensdom ‘n Redder nodig het! Hierdie verse is ou verbond wette en is nie bedoel vir gelowiges om te probeer nakom nie.
Voorbeeld 2:
1 Joh 3:4 Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid. 5 En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. 6 Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie.
Hierdie verse is amper aan die einde van die Bybel, wat beteken dat hulle moontlik Nuwe Verbond kan wees. Maar op eerste oogopslag kom hierdie verse so veroordelend voor! Kom ons lees die volgende paar verse ook:
1 Joh 3:7 My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is. 8 Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. 9 Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat Sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.
Johannes het hierdie brief geskryf aan sy “kinders” om hulle te bemoedig en hulle te vestig in die openbaring van net hoé seker hulle redding is. Hy wou hulle oortuig dat hulle verseker gered is! Hierdie “kinders” van Johannes het sopas onder die dwaalleer en invloed uitgekom van leerders van ‘n geloof genaamd “Gnostisism”, en Johannes wou op geen manier sy geliefde kinders bangmaak of hulle foute uitwys nie. Nee, hy het gepraat oor hulle veilige posisie in Christus – dìt was die konteks van hierdie brief. Die sleutel is vers 9. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie. Nie omdat hulle nooit foute maak nie, nee hulle sondig nie want ‘n persoon wat gered is word ‘n erfgenaam gemaak van die natuur en karakter van God (Ef 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid), hy ontvang sy lewe van God. Die beginsel van bo-natuurlike lewe is in hom en bly in hom, die saad van God bly in hom; hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierdie nuwe natuur het nie in hom die vermoë om te sondig nie. Hoe kan dit wees dat die nuwe Godgegewe natuur kon sondig?
‘n Wedergebore gelowige is die geregtigheid van God, selfs wanneer ons goed of sleg doen, ons bly geregtig (2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom). Dit is hoe Abraham geregtig gebly het selfs toe hy vir die Farao gejok het oor sy vrou. Dit maak nie reg om te lieg of steel nie, maar dit verduidelik hoe ons die geregtighid van God bly selfs wanneer ons sondig (dankie Cornel Marais).
So wanneer jy ‘n Bybelvers teëkom wat veroordelend of bangmakend voorkom, sit jou “genade-brille” op sodat jy hierdie verse kan lees deur die filter van die bloed van Jesus waardeur jy vergewe en volmaak gemaak is. Heb 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. Onthou om nooit die Bybel af te water na jou vlak van ervaring toe nie, maar veg eerder daarvoor vir jou ervaring om opgelig te word na die vlak van die ewigdurende Woord.
In Genade
Andre van der Merwe
www.NewCovenantGrace.com/afrikaans/
