Job

05.16.10

Post Page Rank

Job

Hierdie misverstane boek in die Bybel is in die verlede die oorsaak gewees vir baie blaam om op God te val vir die feit dat Hy siektes, armoede, verdriet, dood en lyding veroorsaak. Inteendeel, dit is amper vreemd as’n Christen nie een of ander tyd in hul lewe vir God die skuld gegee het vir iets slegs wat met hulle gebeur het nie en gedink het: “As Hy dit met Job kon laat gebeur het, kan Hy dit met my ook laat gebeur”.

Volgens sommige teoloëe is Job moontlik die oudste boek in die Bybel, geskryf selfs voordat Moses Genesis tot Deuternomeum geskryf het. Job was ‘n opregte en Godvresende man: [Job 1:1 Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad]. Omdat die 10 Gebooie en die Wet nog nie ingestel was nie, was daar geen standaard van heiligheid om teen te prober opmeet nie en Job het ope toegang tot God se teenwoordigheid gehad. En toe op ‘n dag gebeur die volgende: [Job 1:6-7 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. 7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het]. Hoe het Satan dit ooit reggekry om in die Hemel te kom en homself voor God te laat staan? Hierdie is ‘n onderwerp wat ons in diepte na sal kyk in ons volgende boodskap.

Die punt is, selfs as satan dit kon regkry om op ‘n stadium in die Hemel voor God te staan, kan hy dit nie meer doen nie. Kort nadat Jesus die 70 dissipels uitgestuur het, het hulle na Hom toe teruggekeer, verheug dat selfs demone aan Sy naam onderworpe was: [Luk 10:17 En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. 18 Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val]. Satan was (weer) op daai dag uit die Hemel gewerp! Hy het nie langer enige reg gehad om voor God te staan en die mensdom van enige iets te beskuldig nie! Daarom hoef ons nie te vrees dat satan meer enige slegte optrede aan God kan rapporteer nie. Dit is alles vergewe aan die kruis.

Tydens die periode wat satan probeer het om vir Job te vernietig, is dinge selfs erger gemaak deur Job se vriende wat met hom kom praat het en probeer het om hulle “wysheid” te deel. Ons het gesien in Job 1:1 (bo) dat Job ‘n geregtige man was, maar nou het Élifas hom daarvan beskuldig dat hy sondig was en dat sy lyding as gevolg van sy ongeregtighid was. [Job 4:7 Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? 8 Volgens wat ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit].

Job homself het ook vir God van ‘n paar wilde dinge beskuldig: [Job 9:30 Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog, 31 dan sou U my in ‘n poel indompel, sodat my klere van my ‘n afsku kry. 32 Want Hy is nie ‘n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie. 33 Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie. 34 Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie]. Job eis dat dit God is wat besig is om hom dood te maak: [Job 13:15a Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom].

Op die ou end, nadat dinge in sirkels gegaan het en die saak selfs meer gekompliseerd is deur Job se drie vriende, tree God in en praat met Job vanuit ‘n storm: [Job 38:1Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord en gesê: 2 Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? 3 Gord dan soos ‘n man jou heupe – dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My].

God beskryf dan die wonderbaarlike maniere waarop Hy die heelal geskape het, insluitend die diere, oseane en die hemele en Hy vra of Job teenwoordig was toe Hy al hierdie dinge geskape het? Job kom uiteindelik sy dwaasheid agter en hy word te angsbevange om verder te praat: [Job 40:3 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: 4 Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond] en ook [Job 42:3 Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie].

Nou as ons vir ‘n oomblik kan vergeet om godsdienstig te probeer wees en net bietjie logies dink: As iemand sou praat van dinge wat hulle nie verstaan nie, wat is hulle eintlik besig om te doen? Hulle praat nonsens! Job was besig om nonsens te praat! Hy het dit selfs ‘n paar maal erken! (sien weer Job 42:3 hier bo). Ons kan daarom, soos Job, nie vir God daarvan beskuldig dat Hy ons straf, dat Hy moeilikhede in ons lewens toelaat, van ons steel of enige iets soorgelyks doen nie omdat ons besig sou wees om nonsens te praat. Ons Vader is ‘n goeie God en ‘n gewer van goeie dinge: [Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie].

As enige iemand meen dat hulle deur ‘n “Job-ervaring” gaan, maar nie aan die anderkant met dubbel soveel rydom en seëninge uitkom soos waarmee hulle ingegaan het nie, dan is hulle nie besig om te ervaar wat Job ervaar het nie, maar is in werklikheid besig om eerstehands te ervaar hoe dit voel om besteel te word deur die satan: [Joh 10:10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê]. Hierdie is die enigste twee werksbeskrywings in die Bybel – dit vir ons om te besluit wie is eintlik verantwoordelik vir wat…

In Genade
Andre van der Merwe

  • Share/Bookmark

Leave a Reply

Anti-Spam Protection by WP-SpamFree