Wandel in die Vlees (On-Hernude Verstand)
07.14.09
![]() |
Post Page Rank |
Wandel in die Vlees (On-Hernude Verstand)
Voorheen het ons ‘n 2-deel reeks voltooi oor hoekom Christene somtyds steeds dinge doen wat die wet “sonde” noem. (Op ons webwerf onder die “Soek volgens Onderwerp” bladsy kan u deel 1 en deel 2 vind van die reeks “Hoekom Sondig Christene?)”
Onder die Nuwe Verbond is al die sondes van ‘n Christen (in die verlede, hede en toekoms) reeds vergewe. 1 Joh 2:12 Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om Sy Naam ontwil. En ook Heb 10:17 en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.
Ons het tot die gevolgtrekking gekom in hierdie 2-deel reeks dat Christene somtyds steeds foute maak a.g.v. 2 redes, naamlik ‘n on-hernude verstand en ook a.g.v. eksterne versoekings. Ons liggaam sal homself eenvouding onderwerp as ‘n instrument aan watter gedeelte ons ookal beheer gee: 1) Aan ons 100% geregtige wedergebore gees of 2) aan ons on-hernude verstand. As die verstand nie hernu is nie, sal dit oorlog voer teen die wedergebore gees. Die liggaam sal soos ‘n slaaf volg na watter een van die twee ons ookal beheer gee. As ons verstand hernu is deur die reiniging van die Woord van God, sal ons ons liggame gebruik as instrumente van geregtigheid. Maar as ‘n persoon wandel in die begeertes van hulle on-hernude verstand, sal hulle liggaam ‘n slaaf wees aan sonde, en die vleeslike (aardse) gevolge maai / erf van daardie sondes. Ja AARDSE gevolge, want al die EWIGE straf was op die kruis aan Jesus uitgestort.
Indien die volgende paragraaf vir jou tot aanstoot is, lees dit asseblief eers tot die einde…
Omdat Nuwe Verbond gelowiges nie meer onder die wet is nie, kan hulle eintlik nie meer die wet “breek” nie, en kan tegnies gesproke nie meer “sondig” nie. Rom 4:15 Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Eintlik pleeg hulle nie meer sonde, maar eerder “werke van die vlees”. Gal 5:19 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge… Hierdie is nie net “woord speling” nie, en ons kyk hierdie week na “werke van die vlees” met spesifieke verwysing na gelowiges.
Ons kan duidelik sien uit hierdie bogenoemde lys (Gal 5:19) dat indien ‘n persoon sulke dinge sou aanvang op ‘n gereelde basis, hulle nie net hulle self sal vervreem van die mense wat vir hulle lief is nie, maar hulself ook spoedig in die tronk sal bevind wanneer die wet hulle inhaal vir dinge soos diefstal, moord, ens. (Dit is interessant dat die Bybel haat en jaloesie gelyk sit met MOORD…)
Hierdie straf en gevolge is alles aardse gevolge, wat die woede, veroordeling & verwyt van die mense insluit wat ons tenagekom het omdat hulle ons NIE vergewe het vir al ons foute van die verlede, hede en toekoms nie. Mense is nie so genadig soos God nie, en daarom wanneer ons mense seermaak en teenoor hulle oortree, moet ons ons foute teenoor hulle bely en vir hulle vergifnis vra. Jak 5:16 Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.
Dis goed om op hierdie punt te sien dat selfs indien ‘n gelowige wat sulke dinge aanvang, op een of ander tyd die gevolge sal moet dra as die owerhede of mense om hulle hulle dalk wou straf, dat God hulle nooit sal verwerp of sal ophou liefhê nie, selfs al doen hulle die mees afskuwelike dinge. Die genade van God het voorsiening gemaak om selfs die grootste sonde te bedek. Rom 5:20b en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; Jy mag dalk vra: “Maar hoekom sal God so ‘n persoon steeds wil liefhê, selfs al doen hulle hierdie verskriklike dinge?” Die antwoord is eenvoudig dat wanneer iemand wedergebore is, hulle nou IN Christus is. 1 Kor 1:30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. En ook Ef 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van Sy genade. En omdat hulle IN Christus is, het die Vader hulle net so lief soos vir Christus en kan niks hulle ooit skei van die liefde van God nie.
Iets wat gelowiges teen moet waak, is om in hulle eie krag te probeer om “meer heilig” te lewe. Heiligmaking beteken nie jy hou op om hierdie of daardie sonde te doen nie, heiligmaking beteken om vanuit jou posisie in Christus te lewe. Wanneer ons probeer om meer heilig te “word”, gaan ons terug onder die wet in en maak ons die deur oop vir veroordeling om in te kom wanneer ons foute maak. Dit maak ons bewus van ons eie tekortkominge en roof ons van vrymoedigheid voor God. Ons sal dan nie vir God wil leer ken nie want ons voel te skuldig om met Hom te praat.
Dit beteken ons sal slegs ‘n gewone lewe lei, amper soos praktiese atëiste wie se lewens leeg is van enige van die krag van ons magtige God. Ons sal aanhou om ons ongeloof te voer en nie ons verstande hernu nie, en sal daaroom ook nie vir God leer ken vir wie Hy regtig is nie: ‘n Goedgesinde en genadige Vader wat altyd regstaan om ons te seën en voorspoedig te maak verby ons wildste drome. Soos wat ‘n baie goeie vriend van my (Cornel Marais) dit stel: “Onthou net wanneer jy terug gaan en onder die wet lewe as ‘n wedergebore gelowige, beteken dit nie jy het jou verlossing verloor nie, dit beteken slegs dat jy eers vir God sal leer ken wanneer jy tot sterwe kom, so moet Hom nie blameer vir jou kragtelose godsdienstige bestaan op die aarde terwyl jy weier om Hom te leer ken nie.”
In Genade
Andre van der Merwe
www.NewCovenantGrace.com/afrikaans/
