Hoekom Moet Ek Heilig Leef?

11.10.09

Post Page Rank

Hoekom Moet Ek Heilig Leef?

Die hele Nuwe Verbond spreek daarteen om te probeer om “heilig te leef” in ons eie krag en te probeer regverdig word deur ons eie pogings tot gehoorsaamheid. God identifiseer nie meer teenoor ons op grond van ons eie vlak van gehoorsaamheid nie, maar volgens die perfekte gehoorsaamheid van die een man, Jesus Christus.

[Rom 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet].
[Rom 5:19 Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word].

En tog sien ons baie verse in die Nuwe Verbond (na die kruis en uitstorting van die Heilige Gees) wat steeds ‘n heilige leefstyl propageer. Wat sal die doel hiervan wees? Wel as ons na die 2 verse hierbo kyk, verwys dit na ons posisie voor God. In God se oë, as ons een keer ons geloof in Sy Seun Jesus Christus geplaas het, sal ons altyd geregverdig en geregtig voor Hom staan, want wanneer die Vader na ons kyk, sien Hy Christus. Ons is IN Christus en niks kan ons ooit uit Christus uithaal nie. [1 Kor 6:17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom]. Ons probeer egter soms om onsself uit Christus te haal as ons droogmaak en ons voel dan dat ons elke aksie deur God bestudeer word deur ‘n vergrootglas, maar dit is nie die geval nie. Die Vader sien die perfekte gehoorsaamheid van die Seun namens ons!

In teenstelling hiermee, wanneer dit by MENSE kom, word ons deurentyd in die Bybel aangemoedig om om “mekaar lief te hê”, “die vrede te bewaar”, mekaar te vergewe” ens. Mense is nie so genadig soos God nie en ons het nodig om “goeie werke” te handhaaf om ons verhoudings met mense te behou, maar NIE TEENOOR GOD NIE. Hierdeur sê ons nie dat mense ongehoorsaam teenoor God moet lewe nie. Maar jy sal sien dat die konteks van meeste van die verse in die Nuwe Verbond wat praat oor heilig lewe en goeie werke, verwys dit na die behoud van ons verhoudings met ander mense. Kom ons kyk na 3 voorbeelde:

[Ef :25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede]. Indien jy aanhou om vir ander mense te lieg sal jy een of ander tyd in die moeilikheid beland.
[26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie]. As jy kwaad bly vir iemand vir ‘n geruime tyd, gee jy die duiwel ‘n voethou in jou verhouding met daardie persoon.
[28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het]. As ons steel van ander mense, sal dit verseker ‘n negatiewe effek in ons verhouding met hulle hê wanneer hulle uitvind.
[29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor]. Weereens praat dit oor MENSE, want dit sê ons woorde moet die hoorders stig.

[Kol 3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het 10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, 11 waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. 12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. 13 Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen].

[Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai]. Wanneer jy aanhardloop agter die begeertes van jou vlees (die deel van jou verstand wat nie hernu is nie en nogsteeds aardse begeertes het), is die kans goed dat jy in die moeilikheid sal beland met mense as jy vir hulle lieg, van hulle steel, hulle kul of indoen. Jy mag selfs vervolg word deur die land se wette as jy steel of ander misdade pleeg. Dit is die “verderf” wat hierdie vers van praat – die Engels sê “corruption” of “destruction”.

Daar is baie ander voorbeelde, maar ek dink ons kry die punt. God het ons nie minder lief as ons ‘n fout maak nie, maar mense wel – behalwe as hulle volwasse Christene is wat Genade verstaan en weet dat niemand se optrede perfek is nie.

Ten slotte, nog ‘n rede om “heilig te lewe” is die volgende: As ons nou dood is vir sonde (want ons sondige natuur is uit ons “besny” deur die besnydenis van Christus (Kol 2:11)), hoekom sal ons enigsins verder in dit wil bly lewe? Hoekom sal ons steeds agter die begeertes van ons ou sondige natuur aanhardloop asof dit nooit uit ons verwyder is nie?

[Rom 6:1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God].

En hier is hoe ons dit doen: Hoe meer ons probeer om minder te sondig, hoe meer sal ons misluk. Ons oorwinning oor die begeertes van ons vlees is om ons verstand te hernu, om ons gedagtes te hervorm om die waarheid van God se Woord te kan onderskei en tyd in Sy teenwoordigheid te spandeer, Hom toe te laat om ons te liefkoos en te bemin. Wanneer ons begin sien hoe diep Sy liefde vir ons is, sal ons nie in staat wees om te keer dat die vrugte van die Gees deur ons begin vloei nie, en sal ons God se liefde en omgee  begin wys aan ‘n wêreld wat nodig het om Jesus te sien!

In Genade
Andre van der Merwe

  • Share/Bookmark

3 Responses to “Hoekom Moet Ek Heilig Leef?”

  1. Jacques says on :

    Num 15:40 sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees.
    Lev 11:44 Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie.
    Vraag: Het die woord heilig ‘n ander betekenis gekry in die NT as wat dit het in die OT?

  2. Andre van der Merwe says on :

    Jaques

    Ek dink jy verstaan nie die verskil tusssen die verskillende verbonde wat God met die mensdom gesluit het nie. Dit gee mens ‘n geweldige vryheid om te verstaan presies hoekom God sekere dinge beveel het, en in watter konteks dit bedoel is. Die verse wat jy hierbo aangehaal het is verseker waar en kragtig, maar God basseer Sy goedkeuring van ons nie meer op ons vermoee om die Wette te gehoorsaam nie. Na die kruis het alles verander. Ek beveel aan dat jy ons vorige boodskap lees wat handel oor die 3 belangrikste verbonde wat God met die mensdom gesluit het, ek weet dit sal jou bless! Jammer vir die Engels, ons kon nog net nie fisies daarby uitkom om alles te vertaal in Afrikaans nie. ‘n Verbond in Engels is ‘n “Covenant”.

    http://www.newcovenantgrace.com/3-covenants/

    Onder die Ou Testamentiese Wette moes die mensdom die Wet perfek probeer gehoorsaam om God se seeninge en goedkeuring te probeer verdien. [Deut 6:25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het].

    En natuurlik weet ons dat niemand dit ooit kon regkry nie, behalwe 1 persoon: Jesus. Daar is nou ‘n hele nuwe manier hoe God teenoor die mensdom identifiseer, en dit is waaroor hierdie webwerf handel.

    Die ou testamentiese wet word in die Nuwe Testament beskryf as ‘n bediening van die dood:
    [2 Kor 3:7 En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8 hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?]

    Dit word beskryf as ‘n “skuldbrief”, en ook dat Jesus dit by die kruis uit die weg geruim het: [Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael].

    Ons is nou nie meer onder die wet nie, maar leef volgens geloof. En hier is die skokkende een, iets wat sonder twyfel die monde sal stilmaak van diégene wat steeds verontskuldig wil word deur die wette te gehoorsaam. Kom ons kyk eers na 2 verse: Gal 3:12 Maar die wet is nie uit die geloof nie… en ook Rom 14:23b … en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. Kan jy sien wat dit sê as jy hierdie twee verse kombineer? Kan jy dit sien??? Omdat die wet nie uit geloof is nie en omdat alles wat nie uit geloof is nie, sonde is, dan beteken dit dat almal wat probeer om uit hulle eie goeie werke verontskuldig wil word en volgens een of ander morele kode (die wet) probeer leef, besig is om in sonde te leef.

    Genadegroete
    Andre van der Merwe

  3. Magda Kopp says on :

    Ja Andre dit laat my dink aan toe ek nog in die NG Kerk was het ons altyd gesing : Ons het O Heer u Wet weerstrewe. genade is al wat ons om pleit …..

    Ek is verheug om te se nadat ek Jesus as my Verlosser en Saligmaker aangeneem het is ek vrygemaak. In die engelse bybel word dit mooi gestel : If the Son of Man sets you free you will be free indeed.

    Here seen jou

    Magda

Leave a Reply

Anti-Spam Protection by WP-SpamFree