Is God Kwaad vir Ongelowiges?
07.21.09
![]() |
Post Page Rank |
Is God Kwaad vir Ongelowiges?
Alle mense op die planeet aarde wat nie hulle geloof in Jesus Christus as hulle Redder en Here gesit het nie, is skuldig aan die enigste sonde waarvoor Jesus NIE op die kruis voor kon sterf nie: Ongeloof in Christus.
In teenstelling met baie populêre hedendaagse sienings, is God NIE kwaad vir ongelowiges omdat hulle Hom nie aanvaar het nie. Op die kruis meer as 2000 jaar gelede is die sonde van die hele wêreld vergewe (Tit 2:11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn), MAAR ons moet ons geloof in hierdie genade plaas om dit te kan ontvang. God het alreeds die hele wêreld met Homself verenig deur Jesus Christus. Hy het voorsiening gemaak vir elke persoon op die planeet om gered te word: 2 Kor 5: 19 naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. God het alreeds elke mens op die aarde se sonde gestraf op Jesus, maar mense moet in Jesus glo om hierdie vergifnis te kan ontvang. Ongeloof in Jesus is die enigste sonde wat Jesus NIE voor kon sterf nie, en daarom kan niemand wat hierdie sonde doen vergewe word nie.
Dus is God nie meer in die straf besigheid nie, want Hy het reeds vir Jesus in ons plek gestraf. In hierdie dae reik God met Sy goedheid na almal op die aarde (gelowiges en ongelowiges) want Hy wil hê dat almal moet sien Hy is goed en dat Hy hulle liefhet. Dit is die GOEDHEID van God wat mense tot bekering bring, nie ‘n vrees vir straf nie. Rom 2:4 Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Dit is die rede hoekom atëiste en en sondaars nie ons vyande is nie, maar ons vriende, want as God hulle liefhet, hoe kan ons nie? Ons werk is om hulle die liefde van God te wys, nie om hulle te oordeel nie.
Deur hulle volgehoue ongeloof verwerp ongelowiges egter hierdie vredesoffer van God, en in die proses vertrap hulle die bloed van Jesus onder hulle voete, terwyl hulle harte al harder en harder word. Rom 2:5 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God.
Op daai 1 enkele dag van oordeel (nie jare en jare soos sommiges sê nie, sien weer Rom 2:5 hier bo) sal hierdie ongelowiges geoordeel word omdat hulle NIE in Jesus geglo het nie. En hulle sal die verskriklike gevolg in die gesig moet staar om ‘n ewigheid weg van God af te moet spandeer, nie vergifnis vir hulle sondes te ontvang nie en in die hel gemartel te word, wat NIE God se wil is vir ENIGE IEMAND op die aarde nie, want God het ALLE mense lief! 1 Tim 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Daarom omdat God ongelowiges liefhet en wil hê dat almal gered moet word, is dit ons mandaat om hierdie selfde liefde teenoor ons ongelowige naaste te bewys, omdat ons God se hande en voete in die aarde is. Meeste ongelowiges het hart wat baie hard geword het, nie noodwendig teenoor God nie, maar meestal teenoor Christene wat God verkeerd verteenwoordig het as ‘n suur, harde, meedoënlose God wat siekte, geweld, ongereg & straf toelaat om op die aarde te heers. En dan bo-op dit alles, as ‘n ongelowige by die kerk wil aansluit, dan moet hulle nou begin om ook allerhande reels na te kom en hulle beter seker maak hulle verander hulle leefwyse, want anders sal hulle deur die kerk uitgeskop word en God sal hulle straf. Kom aan!!!! Watter tipe logies denkende persoon sal by so iets wil aansluit?
Kom ons wys hulle die tipe liefde wat Go aan ons bewys het toe ons eerste tot bekering gekom het, Rom 5: 8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Nie een van ons het dit in die eerste plek verdien nie, hoekom moet ons dan probeer om ander te laat voel hulle is veronderstel om een of ander perfekte standard te handhaaf?
In Genade
Andre van der Merwe
www.NewCovenantGrace.com/afrikaans/
