Gees, Siel & Ligaam

01.20.09

Post Page Rank

Gees, Siel & Liggaam
 
Een van die grootste probleme vir Christene wat in Genade glo, is om te kan verstaan hoe ons heeltemal geregtig kan wees want ons “voel” nie altyd geregtig nie. Die sleutel lê in die begrip van gees, siel en liggaam. Die Bybel sê duidelik ons het al drie: 1 Tess 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

Ons IS ‘n gees, HET ‘n siel en ons BLY in ‘n liggaam. Dit is sterk in kontras met die wêreldse oortuiging dat ons slegs ‘n liggaam en ‘n verstand het (verstand = siel). Kom ons kyk vlugtig na elk:

Die Gees: Wanneer ons wedergebore word, word ons gees lewendig vir God. Voorheen was ons gees in ‘n dormante, dooie toestand voor God, maar lewendig vir sonde (ons was IN sonde). Ef 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus – uit genade is julle gered. Toe ons ons geloof in Christus gesit het, is ons ou sondige natuur gekruisig (en begrawe) saam met Christus: Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is… en ook Kol 3:3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Nou het ons gees lewend geword vir God: Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.

En hier is die mees voortreflike deel: Die oomblik wat ons ons geloof in Jesus Christus sit, word ons wedergebore gees net so geregtig soos Chrsitus geskep, perfek in glorie en heligheid, met die einste natuur van Christus self! Die Vader het Jesus sonde gemaak in ons plek sodat ons Sy geregtigheid kan ontvang as ‘n gratis geskenk! 2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Ons wedergebore gees word ook soms die “nuwe mens” of “innerlike mens” genoem: Ef 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Hierdie wedergebore gees kan nooit verander of beinvloed word nie, dit bly geregtig vir ewig!
Die Siel: Dit is die psigiese dimensie wat insluit die verstand, wil, intellek, persoonlikheid en emosies. Hierdie deel verander nie spontaan wanneer ons wedergebore word nie. Ja ons het nou ‘n keuse vir God gemaak, maar hierdie deel het steeds die ou gedagtepatrone en gewoontes van ons BC (voor Christus) dae. Hierdie gewoontes mag dalk gevorm het uit selfbeskermings-instinkte, of deur ons wat ons liggame oorgegee het aan die begeertes van ons ou sondige natuur. Selfs al wil ons nou nie meer sonde doen nie, maak ons soms steeds foute. Dit is wat Paulus oor praat in Rom 7:15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.

Ons siel / verstand is die deel wat ons die res van ons lewe spandeer om te hernu. Ons moet ons verstand oplei om saam te stem met wat gebeur het in ons gees. Hoe doen ons dit? Deur tyd met God te spandeer, die Woord te bestudeer, kerk toe te gaan, ens. Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Dit is hoekom ons vertel word om die dinge te bedink wat daarbo is, want hoe meer ons God se gedagtes dink, hoe vinniger sal ons verstand hernu word. Ons ou sondige gedagtepatrone sal sterf en ons verstand sal in ooreenstemming kom met ons wedergebore gees. Die verstand is ook die deel wat heilig en salig gemaak word: Heb 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. Onthou die gees is alreeds salig en heilg gemaak.
 

Die Ligaam: Toe Jesus gesterf het, het Hy jou met Sy bloed gekoop. Jou gees het lewend geword teenoor God en jou ligaam is nou ‘n tempel van God. 1 Kor 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. Die ligaam sal of die gees of die verstand volg, afhangende watter een ons in beheer plaas. Indien ons die verstand volg (en ons verstand is nog nie hernu nie), wandel ons in die vlees en die vrug hiervan is dood (dood in die vorm van dat ons die slegte gevolge dra van ons goddelose optrede): Rom 6:21 Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.
 
Maar nou, omdat ons lewend gemaak is IN die gees (wedergebore), laat ons wandel volgens die gees! Ons ou sondige natuur is gekruisig saam met Christus, hoekom wil ons dan steeds lewe volgens daardie ou begeertes? Soos wat ons verstand (siel) meer en meer hernu word sal ons ligaam en verstand meer en meer begin wandel in lyn met wat alreeds in ons gees gebeur het, en ons sal onsself spontaan aanwend tot die geregtige bedoelings van God. Rom 6:19 …want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.  Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
 
Onthou jy IS ‘n gees, jy HET ‘n siel en jy LEEF IN ‘n ligaam. Jou gees is 100% geregtig en heilg, dus is JY die geregtigheid van God!!

In Genade
Andre van der Merwe

  • Share/Bookmark

Leave a Reply

Anti-Spam Protection by WP-SpamFree