Is Christene Steeds Onder die Wet of Nie?
09.21.09
![]() |
Post Page Rank |
Matt 5:17-18 – Is Christene Steeds Onder die Wet of Nie?
Baie mense wat steeds glo dat hulle volgens die Ou Testamentiese Wette moet lewe het al menigmale Matt 5:17-18 na predikers van die Genade boodskap gegooi om hulle saak te probeer staaf. Laat ons daarom nou kyk na wat die Bybel regtig sê oor om onder die wet te lewe, en of ons steeds gebonde is daaraan, want alle skrif moet deur skrif geinterpreteer word. Eerstens, kom ons begin met hierdie week se kern skrifgedeelte:
Matt 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.
Peter Ditzel van www.wordofhisgrace.org verduidelik hierdie 2 verse as volg: “Jesus gee ons 2 opsies/voorwaardes hier: Die wet kan nie verbygaan voordat die hemel en aarde verbygaan OF die wet kan nie verbygaan voordat alles gebeur het nie (die Engelse Bybel sê voordat alles VERVUL is nie). Die een of die ander voorwaarde kan dit laat gebeur. Die hemel en aarde het nog nie verbygegaan nie, so kom ons los dit daar vir eers. Maar wat het Jesus bedoel dat ALLES gebeur het of dat ALLEs vervul is? Hy het verwys na wat Hy sopas in die vorige sin gesê het: Die vervulling van die wet EN die profete. As Hy die wet en profete vervul het, dan kan die wet verbygaan. Hoekom is dit dat so baie mense wat aanvaar dat Jesus die Ou Testamentiese profesiëe vervul het, nie kan aanvaar dat Hy op presies dieselfde manier die wette OOK vervul het nie – almal van hulle?”
Wanneer jy onder ‘n kontraktuele verpligting is aan iemand en jy vervul al die vereistes van die kontrak, is die kontrak oor en verby. Indien jy egter eenvoudig die kontraktuele ooreenkoms vernietig voordat jy aan die kontrak se vereistes voldoen het, word jy nie vrygeskeld van die vereistes nie, wat presies die rede is hokom Jesus NIE gekom het om die WET te vernietig of te ontbind nie. Maar die oomblik wanneer jy die vereistes wel vervul, word jy vrygestel van dit! Op presies dieselfde manier het Jesus nie gekom om die wet te vernietig nie, maar Hy het dit vervul, sien weer vers 17 hierbo. Jesus was in alle maniere gehoorsaam aan die wet vir Sy hele lewe (is dit nie wonderlik nie???), en het daarom aan al die wet se vereistes voldoen. Kom ons kyk na nog verse (en daar is nog baie meer as die verse hier onder) wat bewys die wet het verbygegaan:
Rom 10:4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. Omdat al die geregtige vereistes van die wet in Christus vervul is, en omdat die geregtigheid van God en die Heilige Gees as ‘n gratis geskenk aan ons gegee word waneer ons ons geloof in Christus plaas, beteken dit dat in Christus ons ook die vereistes van die wet vervul het, wat beteken dat die wet vir ons ook geëindig het. Rom 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Matt 11:13 Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer. Die hele wet en al die Ou Testamentiese profete het geprofeteer oor die koms van die Messias wat die sonde van die wêreld sou vergewe. Die wet was ons leermeester (tugmeester), en het ons geleer hoe om “reg te lewe”, totdat ons ons geloof in Christus sou plaas, en in geloof sou begin lewe. Noudat ons ons geloof in Christus geplaas het, het ons nie meer die leermeester van die wet nodig nie. Gal 3:23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. 24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
Luk 16:16 16:16 Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Hierdie vers impliseer dat indien jy steeds wet-gebasseerde lewe preek, jy NIE die koninkryk van God preek nie, want jy preek oor die dinge wat geëindig het met Johannes die doper meer as 2000 jaar gelede – lees die vers weer. Hoeveel duideliker kan dit wees??
Gal 3:16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Asook Gal 3:19 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, TOTDAT DIE SAAD aan wie die belofte gedoen is, SOU KOM; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar. Hierdie vers sê dat die wet gegee is as gevolg van oortedinge TOTDAT DIE SAAD sou kom (en as jy die storie van Israel sou lees in Eksodus sal jy sien dit was spesifiek die oortreding van self-geregtigheid). Dan toe die SAAD (Christus) gekom het, is die wet vervul en ons is nie meer onder dit nie.
Rom 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig. Hierdie vers sê dat as daar so iets was soos die “hof van die hemel”, dat die wet en die profete sou opstaan as getuies, hulle vingers na ons sou wys en sou sê:” Hierdie persoon is geregtig!”
Ons is nou nie meer onder die wet nie, maar leef volgens geloof. En hier is die skokkende een, iets wat sonder twyfel die monde sal stilmaak van diégene wat steeds verontskuldig wil word deur die wette te gehoorsaam. Kom ons kyk eers na 2 verse: Gal 3:12 Maar die wet is nie uit die geloof nie… en ook Rom 14:23b … en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. Kan jy sien wat dit sê as jy hierdie twee verse kombineer? Kan jy dit sien??? Omdat die wet nie uit geloof is nie en omdat alles wat nie uit geloof is nie, sonde is, dan beteken dit dat almal wat probeer om uit hulle eie goeie werke verontskuldig wil word en volgens een of ander morele kode (die wet) probeer leef, besig is om in sonde te leef!!
Laastens, kom ons kyk na wat Jesus gesê het net na vandag se 2 kernverse: Matt 5:20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. Die skrifgeleerdes en Fariseers het hulleself getrots in hoe goed hulle die wette van Moses onderhou het, dit is wat hulle vir ‘n lewe gedoen het! Hierdie wette het al die rituele en daaglikse offers ingesluit, nie net die 10 gebooie nie. Inteendeel meeste mense wat probeer om volgens die wette van Moses te leef in vandag se tye, sal wegkwyn in vergelyking met jou gemiddelde Fariseer. Nee, die geregtigheid wat Jesus van gepraat het in hierdie vers was nie dat ons moet probeer om meer gehoorsaam of meer heilig te lewe nie, Hy was besig om te praat oor die geregtigheid wat van God af kom, wat aan elke gelowige gegee word as ‘n gratis geskenk met wedergeboorte waneer ons ons geloof in Christus plaas, wat ook presies die oomblik is waneer Jesus ons sonde en ongeregtigheid gegee word en ons Sy perfekte geregtigheid gegee word. 2 Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
In Genade
Andre van der Merwe
www.newcovenantgrace.com/afrikaans
